AGTERGROND
Bybelgenootskap van Suid Afrika
Die Bybelgenootskap van Suid Afrika is deel van 'n gemeenskap van 150 Bybelgenootskappe wat in meer as 200 lande regoor die wêreld God se Woord aan mense in die taal van hulle keuse beskikbaar stel. Sedert die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se stigting in 1820, het die Bybelgenootskap van Suid Afrika en diegene in diens van die organisasie met groot toewyding daarna gestreef om die visie van ’n Bybel vir elkeen te verwesenlik.
Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
Ek as Christen
Dit is ons taak en verantwoordelikheid as Christene om die Bybels wat deur die Bybelgenootskap voorsien word, te versprei aan almal in Suid Afrika. Daar is baie Christene vandag in Suid Afrika wat nie in die bevoorregte posisie is om ‘n eie Bybel te besit nie. Hiervoor is daar verskeie redes.
Alhoewel dit die fokus van Wiele van Hoop is om Bybels jaarliks met 4x4 voertuie na afgeleë gemeenskappe te neem, word die verspreiding van Bybels nie beperk tot hierdie fokus nie. Elkeen sal deur die Heilige Gees gelei word na die plek(ke) waar Bybels benodig word.
TOEKOMS
Ons droom is om oor ‘n tydperk van 2 jaar ʼn gemeenskap van 4x4 eienaars bymekaar te bring wat daarna jaarliks Bybels na afgeleë plekke in Suid-Afrika sal neem. Die idee is nie om huidige aksies wat deur verskeie organisasies, kerke en gemeentes uitgevoer word te vervang nie. Inteendeel, dit moet voortgaan soos voorheen. Wiele van Hoop voeg by tot die bestaande aksies.
Kom ons vat hande en ons koördineer die jaarlikse aksies wat plaasvind.
BEHOEFTE
JY is die belangrikste aspek om hierdie droom ‘n werklikheid te kan maak. Sonder jou sal ons nie die droom kan verwesenlik nie. Verder het ons 4x4 voertuie nodig om die Bybels te kan vervoer en uit die aard van die saak, geldelike borgskappe en skenkings nodig om die droom te kan verwesenlik. Geldelike borgskappe en skenkings sal eerstens aangewend word vir die aankoop van Bybels. Borgskappe en donasies om te help met brandstof aankope sal ook waardeer word.